Pages

Thursday, January 8, 2015

Terugvoering op Helpertjie!

Vandag wil bietjie spog met terugvoering wat ons al gekry het vir ons boeke. Dit is een soort lekker om die boeke se navorsing en skryfwerk te doen, maar dis 'n heeltemal ander tipe lekker wanneer mense dan terugkom en sê hoe hulle dit geniet het!


Hallo Charlotte, 2015 alweer 'n week oud! Mag die nuwe jaar vir jou, Wynand en julle pragtige nageslag baie voorspoedig en geseend wees! Baie geluk met jou en Ruth se pragtige 3e boek "Helpertjie"! Het die boek verslind! Was so boeiend en emosioneel, kon dit nie neersit nie en het tot 00:00 in die nag gesit en lees! Wou net weet wat met Charlotta gaan gebeur! So 'n pragtige boek wat so lekker lees in ons pragtige taal en ons hartseer geskiedenis! Baie interessant hoe jy daarin geslaag het om die impak van die geskiedenis op beide swart en wit weer te gee in die twee storielyne. Die navorsing wat gedoen is, 'n monumentale taak! Ek het ook die voorreg gehad om jou pragtige suster te ontmoet, net so fyn en pragtig soos jy!  Nogmaals baie geluk met julle mooie boek en mag die nabye toekoms nog sulke lieflike boeke oplewer! Hoop julle is alreeds besig daarmee! Mooi bly en lekker werk in jou lekker-ruik roostuin! Jy is 'n ster!! Baie liefde. Susara Lorio

Friday, September 5, 2014

Sophia Charlotte Liebenberg




Ons derde boek is "Helpertjie".
Die boek is al gepubliseer en ons het nie eers 'n bekendstelling gehou nie!

Hierdie boek is 'n wonderlike belewenis van swaarkry en bitterheid en vergifnis en liefde, alles in een. Persoonlik dink ek dis die beste een uit die drie!

So bietjie agtergrond van haar:

Ons derde Sophia was in 1876 gebore en was in die Jacobs konsentrasie kamp gedurende die Anglo-boere oorlog. Jacobs is naby Merebank gewees in Durban. 

Sophia Charlotte Liebenberg is vroeg dood, in 1915. Sy is begrawe op die plaas Roodepoort, anderkant Middelburg. Haar man is begrawe in Silverton, Pretoria. Interessant genoeg is haar dogter, Tienie met die destydse regter Lammie Snyman getroud. Hy was die hoof van sensuur in Suid Afrika in die 70'er-jare. 

Laat weet my as jy die boek wil koop!
Rutcloete.is@gmail.com

Saturday, May 10, 2014

Deneysville dinge

Dit is interessant hoe iets so "kluisenaar-agtig" soos familie navorsing mens so kan forseer om uit te kom, rond te ry en wonderlike nuwe mense te ontmoet. 

Ek het nou al telkemale die naam "Peet Schabort" gehoor en gelees die tyd wat ek so soekend is na ons Sophia's. Hy het dan die eerste leidrade gegee op die eggsa-website oor waar die plaas Roodepoort is deur die kerkhof en grafte wat hy afgeneem en opgelaai het met hulle GPS koordinate. Nouja, ek en Peet begin toe oor e-posse heen en weer bietjie gesels oor die Botha's. En gister besluit ons toe om deur te ry en vir hom hallo te sê. 


Deneysville is 'n pragtige kunstenaars dorpie by die Vaaldam. Ook nie juis te ver van my ma-hulle af naby Meyerton nie. 

Oom Peet doen nou al jare lank navorsing. Sy huis praat daarvan. Teen die mure hang portrette van oor oupagrootjie Schabort en sy vroutjie. Dan is daar ook sy seun en die se vroutjie. In 'n kassie met glas deurtjies is uitstallings van ou ou brilletjies en boerseep en sunlight seep van toeka tot nou toe. Sy studeerkamer is een skatkis van boeke en prente en foto's. En sy rekenaar spreek van al sy avonture op soek na sy voorgeslagte. 

Oom Peet het die Schabort-lyn se volledige navorsing gedoen van die 1500's af saam met sy neef, Piet Schabort. 'n Familiebybel-dik boek met foto's en name en datums van al wat Schabort is of getroud was met een! Wow! 

Die Schabort-konneksie met ons is natuurlik die Botha's. My oupagrootjie Botha se suster het met 'n Schabort getrou. Hier is hulle:



Nouja. Ek is nou amptelik geinspireer om meer oor die Botha's uit te vind. 

Ons storie se "valley" is Botha-wêreld. Die Botha-berge praat daarvan en ook Stofberg. Maar meer daarvan in my volgende "post". 


Hier is die pragtige mense wie so gasvrou was met ons. Peet en sy super-vrou Marietjie staan regs. Peet se suster Christine en haar man Hennie staan links en Susan staan agter met haar dogter voor haar. My Charma-pop staannatuurlik regs voor. 

Tuesday, April 8, 2014

Die bal is aan die rol

Fourie Ackerman, die man wie al die sketse en voorbladdens vir ons skilder en skets was weer hier gewees, en hy sal binnekort aan die gang kom met ons derde boek - Helpertjie - se voorblad. Elke voorblad sover was die hoofkarakter (Sophia Charlotte, natuurlik) op die voorgrond, in die agtergrond was 'n berg en ook die subkarakter.

Hier is Skrywertjie se voorblad weer:

Die berg in die agtergrond is natuurlik Spandaukop wat so 'n bekende baken is van Graaff Reinet, mens sien hom selfs van die ou begraafplaas af.

Dan is ons sub-karakter natuurlik prinses Sophia Charlotte - hier is 'n bekende skildery van haar:

Ons tweede boek, Moedertjie is dieselfde komposisie gebruik:


Ons Sophia Charlotte, bietjie ge"glamourise" van hierdie foto af:
In die agtergrond is ons fiktiewe karakter - "Soufie". Sy is 'n Pedi meisie wie grootword op die sendingstasie, Botshabelo. En die berg in die agtergrond is natuurlik Majuba.

Nouja, om eg te bly aan ons eerste twee boeke, sal ons derde voorblad baie dieselfde komposisie volg, en ons het reeds besluit op die berg in die agtergrond, en die foto wat ons sal gebruik vir ons Sophia is die een:
Hoewel ons nie 100% seker is dat sy links agter staan nie, gaan ons hom gebruik. In die vorige pos het ek verduidelik hoekom ons dink dat dit sy is, en ek dink nogal dat daar trekke is tussen haar en die foto net bokant die een van haar ma toe sy 16 was?

Ek geniet hierdie deel altyd vreeslik baie - wanneer ons die prentjies en foto's bymekaar kry!

Ons trek al by 22 hoofstukke, en soos gewoonlik sal ons 'n skets of foto vir elke hoofstuk hê. Sover het ons 18 foto's wat ons dalk sal gebruik.. ons sal maar sien waarmee ons opeindig.

Thursday, February 20, 2014

Misterieuse Karakters


Ons derde Sophia is 'n donker perd. Niemand kan haar onthou nie. Ons oudste lewende bron van inligting was nog nie eers gebore teen die tyd dat ons Sophia dood is nie. Al wat sy weet is dat sy (ons Sophia)'n baie hartseer lewe gehad het.

Ons weet nie hoe sy lyk nie, of hoe sy was nie. Al wat ons weet is dat sy in 1876 gebore is op Oshoek in Ermelo en dat sy dood is en begrawe is op ons (nou al bekende) Roodepoort. Sy is begrawe reg langs ouma Feitjie in 1915. Sy is in dieselfde jaar dood as haar jonger sussie Ellie. Ellie is langs haar ouma Elsje begrawe, ook op Roodepoort. Hennie het reeds 3 kinders gehad teen die tyd wat hy met Sophia getrou het. Daarna het sy nog 8 kinders van haar eie gehad. 

Toe kry ek die foto. Dit is beslis my oupagrootjie Salmon Botha en oumagrootjie Kate Scheepers regs op die foto. Hulle troudatum is 14 Desember 1903.  Wat ek uitgevind het op wikitree deur Wilhelm Pretorius is dat oupagrootjie Salmon saam met sy broer Piet op dieselfde dag getrou het. Piet het op die plaas Grootlaagte geboer en Salmon het verskeie plase gehad, die een wat ons die beste ken is Roodepoort. Regs agter is verseker Biel (Schalk Willem) Scheepers, Gideon Scheepers se broer. Maar WIE is links agter??

Kan dit ons Sophia Charlotte wees wie met Hendrik Liebenberg getrou het?


Hier is 'n foto wat geneem is jare later (1934) op oupa Koos Scheepers se verjaardag op Roodepoort. (Die huisie in die agtergrond is die een wat ons gekry het laas toe ons op Roodepoort was!)

As dit Hendrik en Sophia is op die troufoto, het Hendrik (of Hennie, soos hy genoem is) nogsteeds dieselfde hoed gehad!


Sunday, February 16, 2014

'n Lewe vol avontuur

Ons het een Saterdag einde laasjaar weer gaan rondry op die plase, en net die laaste paar vrae beantwoord. Dit was betowerend - om die minste te sê. Die keer het ons ook op Grootlaagte gaan draai maak ook. Dit was 'n Botha-plaas, en behoort nou ('n gedeelte daarvan) aan Gawie van Rensburg.

Oom Kobie verduidelik vir ons waar die lanings bloekombome was wat Emily Hobhouse aangeplant het om te help met die opbouing van die Boere republieke na die oorlog
Gawie en oom Kobie het ons rondgewys op Wonderfontein - waar die plaas-skooltjie was en waar my ouma ook 'n ruk lank skool gegaan het. Ons het die Visser, Marx'e en 'n ongemerkte Engelsman se graf daar gaan kyk, en heerlik gedroom oor wat was.
In hierdie gang is die Engelsman doodgeskiet

Hierdie was die Engelsman se graf wat my oupagrootjie Botha (of een van sy broers) doodgeskiet het in hulle huis.


Wintershoek was ook lekker om te besoek, want Almarie was saam met ons gewees.

Almarie staan by haar ouma Lettie se graf op Wintershoek


Almarie is die dogter van ons "Moedertjie" - Sophia Charlotte Scheepers, se dogter Aletta Maria Beukes, se dogter Sophia Charlotte Schoeman (Charl). Vir alle praktiese doeleindes was dit vir haar soos om terug te gaan huistoe, want sy was so lief vir hulle plaas. Dit was heerlik. Charl en Pieter (Almarie se ouers) het vir ons kaarte geteken van waar alles was toe Ant Lettie-hulle nog op die plaas gebly het. Dit is darem maar regtig mooi wereld daar, en mens kan verstaan hoekom ons voorgeslagte daar sou wou woon.

'n stukkie wat oor is van Ant Lettie se huis

Die hoogtepunt van die dag was egter toe ons weer terug gegaan het Roodepoort toe, en die huis gaan soek het waar oumagrootjie Scheepers gewoon het ("Moedertjie"). En danksy oom Pieter se kaart en Almarie se neus :-) het ons die huisie gekry! Dit was te wonderlik!

Oumagrootjie Scheepers se huis - hier is baie familiefoto's geneem
Nouja, dit was ook nie die einde nie, want met die bakens op oom Pieter se kaart wat so bymekaar gekom het, weet ons toe ook presies waar my oupagrootjie Botha se huis moes gewes het, en hy staan nog daar in sy volle glorie:

My oupagrootjie Botha se huis op Roodepoort

Die een-dag trippie was genoeg om my en my ma weer vuur en vlam te maak vir die boek. Dit maak so 'n verskil as jy 'n idee het van die omgewing en hoe die huisies gelyk het, om jou beter te kan inleef in die boek in.

Die eerste twee boeke is nou beskikbaar om te koop, en die derde boek is sterk oppad!

Kontak gerus vir my of my ma indien jy die boeke wil koop.

Sunday, October 20, 2013

Weer 'n boekbekendstelling!

Sjoe, die tyd vlieg! Ek het 'n maand laas iets gepos op hierdie blog, hoewel ek darem bietjie navorsing gedoen kon kry. Ek sukkel my nog morsdood om ons derde Sophia Charlotte se nageslag (direkte) op te spoor. Ek het nou al foto's gekry van haar kinders en kleinkinders, ek weet waar haar graf is, en haar man s'n. Ek weet selfs waar haar een dogter afgetree het.

Maar daar is nog soveel vrae!

Intussen moet ek my fokus nou weer terugskuif na ons volgende boekbekendstelling toe. Ons boek is klaar en gereed vir 'n lekker aand. Ek weet van niemand anders wat so vinnig 'n reeks boeke skryf nie, maar nouja, as daai Sophia Charlotte bloed in jou are vloei, is dit seker maar hoe dit werk!

Hier is ons uitnodiging:





Liewe Familie en Vriende (en blog-lesers!),
Baie dankie vir elkeen se ondersteuning met die bekendstelling van ons eerste boek, Skrywertjie. Dit was baie dapper van jou om geld uit te gee om dit te koop, nie wetende wat om te verwag nie. Dankie vir dié van julle wat my met mooi woorde aangemoedig het omdat jy met vriendelike oë ons boekie gelees het.


Indien daar nie ‘n ‘Errata’ papiertjie agterin jou boek geplak is nie, let asseblief op die volgende:
SKRYWERTJIE ERRATA
Bl.70      Prinses Charlotte se brief, vierde lyn: George ipv Charles
Bl. 84,  3de paragraaf, 3de lyn: Paradysvoëlblom
Bl. 132, 5de paragraaf: wonderlike nuus
Bl. 145, 9de paragraaf, 4de lyn: Oujaan
Bl 152, 6de paragraaf: om koffie te maak


               
 
Jammer vir die foutjies wat deurgeglip het.
Hierdie is om jou te laat weet dat die tweede boek in die reeks Moedertjie gedruk is en gereed is vir verspreiding. Dit handel oor die volgende Sophia Charlotte in die lyn, naamlik my Oumagrootjie wat gedurende haar leeftyd albei die Vryheidsoorloë sowel as die Wêreldoorloë in ‘n mindere of meerde mate beleef het. Soos in die eerste boek, is die verhaal rondom geskiedenisgebeure en familieverbintenisse en –verhoudings geweef.  In hierdie boek kon ons heelwat foto’s gebruik, asook weer ‘n paar pragtige sketse deur Fourie Ackermann. Die voorblad is ook weer deur Fourie gedoen met ‘n ou foto van my Oumagrootjie as basis. My dogter Rut het weer uitstekende navorsingswerk gedoen wat heelwat verrassings opgelewer het. Weereens was dit opwindend om die fiktiewe vertelling te verweef met die werklike gebeure.
Indien jy belangstel om dit te koop (die prys is weer R150), kan jy dit op een van drie maniere doen: woon die bekendstelling op 1 November 2013 in Randvaal, of op 15 November in Alkantrant  by, in die sysaal van die biblioteek om 10 uur(albei kere) en kry dit daar by ons (dit sal lekker wees om jou weer te sien); of bestel een by ons per e-pos, sms, of foonoproep, dan pos ons dit vir jou; of, indien jy in die Vaaldriehoek of Pretoria woon en nie ‘n bekendstelling kan bywoon of posgeld wil betaal nie, kontak my of Rut om ‘n reëling te tref vir die afhaal van die boek. Die posgeld is R30 na enige plek in Suid Afrika.
Laat weet asseblief indien jy een van die bekendstellings kan bywoon, ter wille van getalle.
Vriendelike groete,
Charlotte en Rut
NS. Daar is nog enkele vriende wat ‘Skrywertjie’ se geld verskuldig is, hulle sal weet wie hulle is. Ons herinner jou dat jy die R150 kan inbetaal by:
S.C.Stapelberg, Capitec Bank ,
Spaarrekening  nr. 1306298782
Takkode 470010
 
....met JOU NAAM as verwysing asseblief. Indien jy nie regkry om ‘n verwysing by te sit nie, sms my net en sê op watter datum jy dit inbetaal het, dan kan ek die naam by die betaling sit. Dankie, C.
Charlotte 083 945 0202         Rut 082 553 1710